Afrikaans is Groot keer vanjaar terug na die SunBet Arena en beloof om die grootste historiese konsert in die geskiedenis van dié konsertreeks te wees. Met ’n skouspelagtige kunstenaarslys en verrassings wat wag, is hierdie jaar se produksie ’n huldeblyk aan Afrikaans se ryk erfenis en sy 100ste bestaansjaar as erkende taal.
“Afrikaans as taal word hierdie jaar ’n 100 jaar oud op 8 Mei. Dis net gepas dat ons hierdie enorme mylpaal by die grootste Afrikaanse konsert vier,” sê Arnold Coleske, uitvoerende vervaardiger van Afrikaans is Groot.
Die 2025-konsert spog met ’n indrukwekkende lys van van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf. Vanjaar sal kunstenaars soos Bok van Blerk, Demi Lee Moore, Riaan Benadé, Corlea, Riana Nel, Chris Steyn, Karlien van Jaarsveld, Dodo Nyoka, Ricus Nel en Appel die verhoog aan die brand sing. Boonop is daar ’n klomp verrassings wat vir konsertgangers wag, wat beteken dat daar altyd ’n element van misterie en opwinding is.
“Elke jaar maak ons ’n handjievol kunstenaars bekend en hou ’n hele klomp kunstenaars as verrassings. Dit maak ons konserte so ’n bietjie anders,” verduidelik Arnold. Hierdie unieke benadering maak Afrikaans is Groot ’n ervaring soos min, waar konsertgangers tot op die laaste oomblik met onverwagte en kragtige optredes verras word.
Volgens Arnold sal 2025 se konserte selfs nóg groter as enige vorige produksie wees. “Ek dink nie die publiek gaan gereed wees vir wat voor hul oë afspeel nie.” Hierdie belofte dui op ’n vertoning vol innovasie, uitsonderlike beligting en klankproduksie, asook visuele elemente wat ’n nuwe standaard vir musiekvertonings in Suid-Afrika gaan stel.
Die Afrikaans is Groot-konserte vind plaas op 7, 8, 9, 14, 15 en 16 November 2025 in die SunBet Arena, Pretoria. Kaartjies wissel tussen R325 en R950 en is nou beskikbaar aanlyn via iTickets. Dit is raadsaam om vroegtydig kaartjies te bespreek, aangesien hierdie massiewe viering van Afrikaanse musiek en kultuur vinnig uitverkoop sal raak.
Moenie hierdie ikoniese viering misloop nie—Afrikaans is Groot 2025 gaan ’n gebeurtenis wees wat nog jare lank onthou sal word!
Coleske Artists Management, Lombardy Business Park, Cnr Cole & Graham Roads, Pretoria, 0810