Blog Layout

Demi Lee Moore se nuwe album ‘Klein Dingetjies’ vol liefdesliedjies uitgereik

Dit is byna agt jaar sedert Demi Lee Moore die gewilde televisiereeks Die Kontrak in 2018 gewen het met haar liedjie “Mis Eet Slaap Herhaal”. Sedertdien het sy haar merk gemaak in die Afrikaanse musiekbedryf en in 2023 het sy “Hart Breek” uitgereik, ’n treffer wat haar verskeie Aitsa-toekennings besorg het. Daarbenewens het sy ook die ongelooflike voorreg gehad om die verhoog te deel met die internasionale ster, Cam, en saam met haar “Diane” in Kaapstad te sing.


Nou keer Demi Lee Moore terug na die kollig met haar splinternuwe album, “Klein Dingetjies”, wat agt liedjies bevat. Hierop is onder meer “Hart Breek” wat in 2023 uitgereik is, asook “Net Myne” wat in 2024 verskyn het. Verder bevat die album ses splinternuwe snitte wat verseker diep spore in die Afrikaanse musieklandskap gaan trap.



Die eerste enkelsnit vanaf die album, “Die Mooi In Jou”, wat op Vrydag, 14 Maart uitgereik is, is geskryf deur Marco van Deventer en Georic Lomas. Die inspirerende lirieke is gegrond op ’n persoonlike sosiale media-plasing wat Demi Lee op haar en haar man se tweede huweliksherdenking geplaas het met die woorde: “Deur jou oë, skyn die son elke dag. Die mooi in jou sien die mooi in my.” Demi Lee vertel: “Ek was op die dag van my en Bart se tweede huweliksherdenking in die ateljee en het daardie oggend daardie woorde geplaas. Hierdie liedjie is vir my baie spesiaal, want dit beskryf werklik hoe ek voel oor hoe Bart oor my voel.”



’n Ander hoogtepunt op die album is “Iemand Soos Jy”, ’n duet tussen Demi Lee en Elandré. Die liedjie, geskryf deur die twee kunstenaars, spruit uit ’n jarelange droom om saam te werk. “Ek en sy dreig al jare om ’n liedjie saam te doen. Gelukkig vra sy my,” sê Elandré. Demi Lee voeg by: “Hy is net ongelooflik kreatief en ek is mal oor hom.” Die liedjie vertel die storie van twee mense wat op verskillende tye vir mekaar wag.




Nóg ’n merkwaardige liedjie op die album is “Bitter Min”, geskryf deur Demi Lee, Georic Lomas en Renier van der Westhuizen van Rooksein. Sy beskryf die liedjie as een van haar gunsteling liedjies op die album. 


Verder is daar die besonderse “Outydse Liefde”, ’n liedjie deur die bekende liedjieskrywer Gian Groen. Demi Lee vertel: “Ek het jare terug by die KKNK ’n optrede van Gian Groen gesien en was dadelik verlief op die lirieke. Ek het hom later gevra of ek die liedjie kan opneem, en hy het ingestem. Dit is regtig een van die mooiste liedjies.”


Die album eindig op ’n hartroerende noot met ’n sielvolle liedjie deur Johan Oberholzer, wat vroeër vanjaar oorlede is. Demi Lee vertel: “Ons het na Johan se dood ’n boodskap op Arnold se foon gevind waarin hy lank terug ’n liedjie gestuur het. Ons het besluit om dit op te neem ter ere van hom.”


Demi Lee se invloed strek verder as haar musiek. Sy is onlangs aangewys as die eerste Afrikaanse vroulike kunstenaar wat deel is van Spotify se EQUAL Africa-veldtog, wat vroulike kunstenaars van die vasteland bemagtig en hul musiek wêreldwyd bevorder. “Om deel te wees van die EQUAL-veldtog beteken vir my die wêreld. Dit is ’n eer om ander vroue in die musiekbedryf te inspireer,” sê sy. As deel van die Spotify EQUAL Africa-program verskyn Demi Lee ook op reklameborde op Times Square in New York, Amerika. 



’n Spesiale kykNET-program oor Demi Lee se loopbaan, vervaardig deur Carien Loubser van Brainwave Produksies, sal op Saterdag, 22 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. In die program deel sleutelfigure soos Arnold Coleske, Georic Lomas en Paulo Azevedo hul insigte oor Demi Lee se merkwaardige loopbaan. Haar ma, suster Aimee, haar man en kitaarspeler Barthlo Visagie, asook Elandré, verskyn ook in die program.



  • Klein Dingetjies is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 28 Maart 2025
Dodo Nyoka dra sy nuwe enkelsnit ‘Jannaman’ op aan sy pa
Deur Coleske Artists 26 Maart 2025
Afrikaans is Groot skryf geskiedenis met tien tjokkenblok konserte
Deur Coleske Artists 24 Maart 2025
Afrikaans is Groot 2025: Die grootste historiese konsert nóg!
MEER ARTIKELS
Share by: