Die sanger Bobby van Jaarsveld haal vir die eerste keer ’n “masker wat die wêreld vir hom aangetrek het, af” in sy nuwe enkelsnit, Verlore Seun.
Hierdie liedjie
uit Bobby se eie pen, is volgens hom die mees eerlikste en mees opregte liedjie wat hy nóg vrystel.
“Dit gaan maar oor ons elkeen se eie pad en ons pad met God. Hoe ons almal maar eintlik sukkel, maar wil dit nie altyd dit erken nie. Dit gaan eintlik oor soveel goed met so baie boodskappe, maar uiteindelik gaan dit daaroor dat ’n mens self moet besluit om uit daai gat uit te klim en die call moet maak dat jy redding nodig het,” het Bobby gesê.
Bobby sê dat sy eie pad en dinge waarmee hy sukkel die inspirasie tot die liedjie was en alhoewel hy van homself praat dink hy tog mense sal verstaan.
“Dis verligting vir my dat mense ook besef ek gaan deur moeilike tye waar ek nie eers myself meer ken nie. Waar ek myself en ander mense partykeer baie verbaas. Maar dat ek steeds elke keer weer God moet kies en my pad met Hom versoen.”
Alhoewel Bobby nie weet hoe luisteraars dié liedjie gaan ontvang nie, glo hy dat elke persoon dit op sy of haar eie lewe sal toepas en die hoop en mooi boodskap van die liedjie sal hoor.
“Van my vriende en familie hou nie daarvan dat ek so eerlik oor myself sing nie, maar ek verstaan dit ook want dit kom uit ’n plek van liefde, maar vir my is dit in my hart en kop belangrik dat ek dié liedjie moet uitbring. Nie almal gaan daarvan hou nie, maar ek hou daarvan,” het Bobby gesê.
“Ek ken soveel mense wat met só baie goed sukkel in die lewe en ek sien hoe dit hulle opvreet elke dag. Ek hoop die liedjie beteken vir hulle iets en dat ons elkeen besef dat ons mense om ons het vir ’n rede. Ons moet self kan kies dat ons baie keer redding nodig het uit sekere situasies uit en dat ons almal mekaar nodig het. En dan uiteindelik net God ons waarlik kan red, maar ons moet self die besluit maak…”
’n Musiekvideo wat oor twee dae in die middestad van Pretoria verfilm sal word is ook in die pyplyn. “Die video is alles my eie idees en stories en dit is redelik rou en eerlik. Sekere gedeeltes kan mense dalk ’n bietjie skok, maar dis okay - dit moet eg wees,” het Bobby gesê.
“Dit gaan oor ek wat myself besoek en deur die gange van my verlede stap. Ek maak die deure oop en sien dinge waarvan ek nie hou nie en dan maak ek weer die deure toe, net om op die ou einde myself te gaan red uit daardie omstandighede.”
Bobby sê NEM (New Ending Media) gaan die musiekvideo vervaardig en hy glo hulle harte en denkwyse met die liedjie is dieselfde as syne. Sy eie orkes sal ook in die video te sien wees.
Verder is Bobby se dagboek deesdae omtrent tjokkenblok. “Ek is besig met ’n Afrikaanse film. En twee nuwe opwindende televisiereekse. Dan is daar ook ’n paar geheime wat ek nie nou kan verklap nie. O, ja natuurlik baie nuwe musiek en shows.”
Coleske Artists Management, Lombardy Business Park, Cnr Cole & Graham Roads, Pretoria, 0810