Elandré ‘skud’ die dansvloer los met sy nuwe enkelsnit

Wanneer jy die naam Elandré hoor, kan jy maar weet jy’s in vir ’n bederf en ’n half. Die veelbekroonde sanger en liedjieskrywer is terug met ’n splinternuwe dansvloertreffer, “Skud” – die eerste enkelsnit van ’n opwindende nuwe album wat later vanjaar die lig sien.


Ná die sukses van sy eerste Engelse EP in 2024, vat Elandré nou weer die voortou – hierdie keer reguit dansvloer toe. “Skud”, wat uit sy eie pen kom, is vervaardig deur die Aitsa-bekroonde vervaardiger, Graaff, en is niks minder nie as ’n energieke viering van vryheid, beweging en musiek.


“‘Skud’ is ’n terugkeer na die dansvloer – ’n plek wat ek gemis het,” sê Elandré. “My eerste keer in ’n club het my verander en vrygemaak. Ek wou daardie gevoel in klank en kleur vasvang.”


Die liedjie is geïnspireer deur ’n onvergeetlike aand in Australië terwyl Elandré op toer was. Dit was sy verjaarsdag, en alles het net reg gevoel – die musiek, die vriende, die dans. “Dit was die beste aand uit ooit,” vertel hy.


Bekend vir sy veelsydigheid, het Elandré onlangs ook die treffende duet “Iemand Soos Jy” saam met Demi Lee Moore uitgereik, en bewys hiermee dat hy net so tuis is in hartroerende ballades as dansvloertreffers.

“‘Skud’ is gebou om jou op die dansvloer te hou. Die dromers gaan dans op hierdie een! Afrikaners hou van dans, ons ken van kuier, en hierdie liedjie is op ’n missie om te vermaak en verlei,” sê hy. “Ek hoop mense hoor die nostalgie van die 80s en 90s se synth-pop klank en waardeer dit.”


Saam met die liedjie, word daar ook ’n visuele fees aangebied in die vorm van ’n sinematiese musiekvideo – vervaardig deur Christian Wolf, die kreatiewe brein agter “Vuur op die Water” en “Tussen die Lakens” se musiekvideo’s. Dié video stel Elandré voor as ’n musikaliteitsverkoper – ’n korporatiewe danskommandant wat ’n vervelige vergadering omskep in ’n spontane danspartytjie.


“Die produksie was ambisieus en het verskeie liggings, tegnici, dansers en my ondersteuners betrek,” sê Elandré. “Ons het Heartfelt Arena, Spotify, en WeWork in Rosebank as stelle gebruik – hulle het hulle deure vir ons oopgemaak en ek’s dankbaar.”


Die danspassies is saam met Liam Anthony uitgewerk, en agt energieke dansers van die Tailormade Group bring die energie behoorlik na die skerm. Verskeie lojale ondersteuners speel ook rolletjies in die video – wat die projek nog meer persoonlik maak.



Met “Skud” wys Elandré dat hy nie net ’n meester van liriek en melodie is nie, maar ook ’n natuurlike vermaakster is wat weet hoe om ’n gehoor aan die beweeg te kry – op die dansvloer én daarbuite.



  • Skud is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 18 April 2025
Martin Bester stel nuwe kuierliedjie saam met Peer Papsak bekend
Deur Coleske Artists 11 April 2025
Karlien van Jaarsveld keer terug met nuwe enkelsnit, ‘Te Min, Teveel’
Deur Coleske Artists 04 April 2025
Lisie Basson se ‘Dis Jou Oë’ steel harte met opregte klank
MEER ARTIKELS