Demi Lee Moore het die kollig gesteel tydens die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings, wat gisteraand by die 3Ci Ouditorium in Pretoria plaasgevind het.
Demi Lee het die toekenning vir Popliedjie van die Jaar gewen, asook die gesogte prys vir Meeste stromings deur ’n vroulike kunstenaar vir Hart Breek. Die musiekvideo vir Hart Breek het ook erkenning ontvang en is aangewys as Musiekvideo van die Jaar. In dié kategorie het sy saam met Johan C Venter, Eric T Graham en Tehan Buys gewen, wat elk hul eie unieke bydraes tot die sukses van hierdie musiekvideo gelewer het.
Die aand was egter nie net Demi Lee Moore s’n nie. Ander noemenswaardige Coleske-kunstenaars en vervaardigers het ook uitgeblink. Riaan Benadé het die toekenning vir Kontemporêre Liedjie van die Jaar gewen vir sy treffer Stoom. Appel het met die toekenning vir Album van die Jaar vir Wille Ding huis toe gegaan.
Nóg ’n hoogtepunt van die aand was toe Paulo Azevedo en Ruan Graaff erkenning ontvang het as Vervaardigers van die Jaar vir hul werk aan Riana Nel se liedjie Wat Nou?.
’n Spesiale oomblik het aangebreek toe die legendariese Laurika Rauch vereer is vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Met haar nuwe enkelsnit Liewe Lewe, wat vroeër vanjaar uitgereik is, bewys sy steeds dat haar invloed onmiskenbaar is.
Die Aitsa-toekennings het opnuut beklemtoon hoe Afrikaanse musiek floreer, met talentvolle kunstenaars wat deurlopend nuwe hoogtes bereik. Demi Lee Moore se prestasie is ’n verdere bewys van haar meesterlike vermoë om gehore te boei en haar plek as een van Suid-Afrika se top-kunstenaars te versterk.
Coleske Artists Management, Lombardy Business Park, Cnr Cole & Graham Roads, Pretoria, 0810