
Lisie Basson se ‘Dis Jou Oë’ steel harte met opregte klank
Eers het sy ons koppe laat skud, toe het sy ons na die dansvloer gelok, en nou gryp ons na ons cowboyhoed en stewels! Lisie Basson, bekend vir haar deelname aan die tweede seisoen van Die Kontrak, het pas haar splinternuwe enkelsnit, “Dis Jou Oë”, uitgereik.
“‘Dis Jou Oë’ is baie naby aan my hart. Ek het dit self geskryf en dit het vir ’n rukkie in my laai gelê voordat ek uiteindelik besluit het om dit daar buite te sit,” deel Lisie oor die betekenisvolle Afrikaanse folk-countryliedjie. “Die musiekbedryf fokus tans sterk op kuier- en dansmusiek, en daarom het ek aanvanklik gewag vir ‘die regte tyd’ om hierdie liedjie uit te reik. Maar toe besef ek: daar is nooit ’n regte tyd nie – ek moet net soveel musiek as moontlik uitbring om my eie brand te bou.”
Die liedjie dra ’n diep persoonlike boodskap: “Dit gaan oor die dinge waarvoor jy lief is en wat vir jou uitstaan in die mense vir wie jy lief is.”
Met hierdie liedjie skep Lisie nie net ’n unieke musikale ervaring nie, maar sy sien dit ook as ’n nuwe rigting vir haar klank. “Vir my beteken dit ’n nuwe begin in die tipe musiek wat ek wil vrystel. Ek wil my eie klank vind en nie net probeer klink soos wat op die top-trefferlyste is nie. As ’n kunstenaar moet jy uniek wees, anders gaan jy nooit jou eie stem ontdek nie.”
Lisie hoop dat “Dis Jou Oë” ’n spesiale plek in luisteraars se harte sal vind. “Ek is baie trots op hierdie liedjie en ek hoop dit word vir ander net so spesiaal soos wat dit vir my is. Dis ’n ligte, lekker liedjie en ek hoop mense wil dit net oor en oor hoor!”
Saam met die enkelsnit word ook ’n pragtige musiekvideo vrygestel, verfilm op die prentjiemooi Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes. “Dis een van die mooiste plekke in die wêreld met die ongelooflikste natuurskoon,” vertel Lisie. “Ek wou ’n video maak wat vir my gelukkig voel, en Lourensford is definitief ’n plek waar ek op my gelukkigste is.”
Die video is geskiet deur Elias, terwyl Georic Lomas, wat betrokke is by Coleske, alles help reël het. “Hy het my regdeur die proses bygestaan soos altyd, en ek is baie dankbaar daarvoor,” voeg Lisie by.
- Dis Jou Oë is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.