Blog Layout

Demi Lee Moore stel nuwe enkelsnit, Net Myne, vry

Ná die ongekende sukses van haar enkelsnit Hart Breek in Desember 2023, is Demi Lee Moore terug met ’n nuwe enkelsnit wat dieselfde countryklanke bevat. Die liedjie, getiteld Net Myne, is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


Net Myne gaan oor die tipe liefde wat deur enigiets kan gaan en sterker uitkom. Twee mense wat mekaar oor-en-oor sal kies. Twee mense wat so verskillend is, maar tog die beste in mekaar uitbring,” het Demi Lee gesê.


Op die vraag waarom sy besluit het om voort te bou op die sukses van Hart Breek se countryklank, het sy gesê: “Ek is mal oor country en wil dit graag in my Afrikaanse musiek ook deurbring.”


Die liedjie is geskryf deur die gesoute liedjieskrywer Johan Oberholzer en vervaardig deur Demi Lee se man, Barthlo Visagie.


“Ek hou van die liedjie want ek hou van die liefde, veral as mens weet jy het ‘net joune’ gevind. Hoe lekker is dit nie? Ek noem dit my langpad liefdesliedjie. Hy gaan lekker wees vir die lang pad, maar weerspieël ook die lang pad van liefde. As jy jou ‘net myne’ gekry het kies jy hulle weer en weer maak nie saak watter draaie die lewe met jou maak nie. Solank jy altyd veg vir mekaar, en dit is maklik as jy weet dit is net JOUNE,” het Demi Lee gesê.


Demi Lee hoop mense sal die liefde in die liedjie voel - en as hulle nie self sulke liefde het nie, dat hulle graag sulke liefde sal wil hê, want dit is darem lekker.


Die musiekvideo vir Net Myne is deur Eric Graham en Tehan Buys verfilm in ’n pragtige kothuis in Magoebaskloof. “Dit is basies die storie van twee mense wat weg is op ’n romantiese naweek, wat mekaar, asook die klein oomblikke, vasvang deur ’n ou lens. Die mooi in die eenvoudige dinge van die lewe. Amper asof mens die mooi in jou ander helfde meer moet uitlig en raaksien,” het Demi Lee verduidelik.

“Ek het ’n goeie idee gehad van wat ek wou hê en uitbring in die video en ek voel hulle het absoluut my ‘vision’ vasgevang.”


“Die liriek in die koor sing: Sal jy net myne wees, Ek vra jou mooi al het ons alreeds, Baklei, Gestry, Vermy, Weer opgemaak, So sal jy? Sal jy net myne wees?


“Dit is nie noodwendig baklei soos mens sou dink nie, vir my is dit baklei vir mekaar. Stry met die dinge wat die lewe jou kant toe gooi, die dinge vermy waarvoor jy bang is. As jy saam al hierdie dinge doen kan jy net sterker en meer lief wees. Kies mekaar bo alles.”

Alhoewel Demi Lee al verskeie hoogtepunte in haar loopbaan kan uitsonder, staan die Afrikaans is Groot-konsert kop-en-skouers bo die res uit. “Afrikaans is Groot elke jaar is natuurlik heel bo aan my lys - om betrokke te wees by so produksie is ’n groot voorreg,” het sy afgesluit.





  • Net Myne is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.
LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 20 Februarie 2025
Ruhan du Toit kry die kuiers aan die gang met ‘Ek Hou Van’
Deur Coleske Artists 07 Februarie 2025
ONS en Rooksein se samewerking is ’n klankbaan vir ‘Stellies’
Deur Analda Breedt 24 Januarie 2025
Laurika Rauch groet met kortspeler, spesiale dokumentêr ‘Laurika se Tuiskoms’
MEER ARTIKELS
Share by: