Blog Layout

Laurika Rauch groet met kortspeler, spesiale dokumentêr ‘Laurika se Tuiskoms’

“Daar moet ’n punt kom waar ek sê ek sê totsiens”


Met hierdie eenvoudige, maar diep roerende woorde neem Laurika Rauch afskeid van haar ondersteuners ná vyf dekades van onvergeetlike musiek en stories. Haar reis eindig nie in stilte nie, maar in ’n viering van ’n buitengewone loopbaan. Laurika se storie word op ’n besondere wyse vertel in die dokumentêr ‘Laurika se Tuiskoms’ wat op Saterdag, 25 Januarie 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.


Laurika se laaste projek is veel meer as net ’n afskeid. Dit is haar geskenk aan haar ondersteuners. Vyf liedjies vorm deel van haar finale EP (kortspeler) waarvan die snit “Nog Voor Ek Jou Geken Het” op Vrydag, 24 Januarie 2025 uitgereik word. Die volledige kortspeler word op Vrydag, 31 Januarie 2025 uitgereik.


“Heel van die begin af, toe ons begin liedjies kies het vir hierdie EP, was dit een van my lekkerste werkservarings. Ek het soveel ondersteuning, kundige hulp en entosiasme vanaf Arnold Coleske, Paulo Azevedo, die ander lede van die Coleske-span, die lieflike liedjieskrywers en die twee vervaardigers ontvang. Ek het agt jaar gelede laas nuwe liedjies opgeneem, en ek wou nie net ‘verdwyn’ sonder om te groet nie,” vertel Laurika.


Die kortspeler bestaan uit vyf snitte, wat elk ’n unieke uitdrukking van verskillende vorme van liefde verteenwoordig. Die liedjie “Nog Voor Ek Jou Geken Het”, ’n meesterstuk deur Johan Oberholzer, praat oor romantiese liefde. Marco van Deventer, een van Suid-Afrika se belowendste jong liedjieskrywers, het die titelsnit “Huis” geskryf, wat ’n liefde vir ’n tuiste en sy mense uitbeeld. “Bloekompraatjies”, Lize Beekman se toonsetting van Oom Bert Gericke se afskeidsgedig aan sy vrou van 65 jaar, roer die hart as ’n ode aan liefde vir ’n lewensmaat. Coenie de Villiers en Deon Meyer se “Ek Wil Jou Belowe” beeld die liefde vir ’n kind of geliefde uit, terwyl die duet “Liewe Lewe” met Christi van Niekerk, ’n viering van liefde vir die lewe self is. Hierdie liedjie het reeds in Julie 2024 aandag getrek, nadat Laurika en Christi mekaar aanlyn ontmoet het in ’n episode van VIA se ‘Klanke van my Hart’.


Johan Oberholzer vertel dat hy “Nog Voor Ek Jou Geken Het” spesiaal met Laurika se stem in gedagte geskryf het. Laurika, wat al verskeie van Johan se liedjies opgeneem het, soos “Slang in die Gras” (saam met Kurt Darren), “Murg en Been”, en “Oorgenoeg vir Oormôre”, beskryf die voorreg om sy nuwe musiek vir die eerste keer te hoor: “Dit is nie net die liedjie self wat my bekoor nie, maar ook Johan se unieke stem en frasering wat altyd uitstaan. Hy het ’n besonderse talent, en hierdie keer het ek sy frasering behou, omdat dit so natuurlik reg is vir die liedjie”. Sy voeg by dat “Nog Voor Ek Jou Geken Het” ’n lied is wat in ’n klas van sy eie staan en ’n sterk emosionele reaksie by mense wat dit al gehoor het ontlok. “Ek hoop natuurlik heimlik dat dit eendag ’n gewilde keuse vir die openingsdans by troues sal wees!” deel Laurika.


Laurika sê dat sy diep dankbaar en oorweldig is deur die liefde en bydraes tot die dokumentêr. Sy beskryf dit as ’n wonder om saam met Carien Loubser en haar span van Brainwave Productions te werk. “Carien laat haar nie afskrik deur struikelblokke nie en skep ’n produksieproses wat glad en vreugdevol verloop. Om saam met haar te werk is ’n totale kreatiewe plesier.”


Sy verduidelik verder dat sy die produksiespan se kundigheid ten volle vertrou het, maar steeds insae gehad het waar nodig. “Ek kon altyd sê as iets my gepla het en het gevoel dat ek gehoor word. Dit was ’n lieflike ervaring,” sê Laurika.


‘Laurika se Tuiskoms’ bied ’n intieme blik op Laurika se lewe, haar kreatiewe proses en haar spesiale oomblikke saam met haar geliefdes. Die dokumentêr plaas die kollig op die vyf nuwe liedjies, wys hoe Laurika saam met ander kunstenaars in die ateljee daaraan werk, en verbind dit met hoogtepunte uit haar loopbaan. Sy het in 1976 vir die eerste keer op televisie verskyn en haar loopbaan op die verhoog begin vestig lank voordat “Kinders van die Wind” in 1979 ’n treffer geword het. Met ’n loopbaan vol hoogtepunte en mylpale, was daar natuurlik baie meer materiaal as wat in ’n 90-minute program kan pas. Die dokumentêr bevat spesiale bydraes van kunstenaars, liedjieskrywers, vervaardigers en ander betrokkenes, waarvoor Laurika haar opregte dank uitspreek.


Die program bied ook ’n blik op Laurika se persoonlike lewe saam met haar man Chris Torr en hul kinders, Simon en Nina, wat almal ’n rol speel. Sommige tonele is tuis en in hul omgewing verfilm – ’n seldsame, maar kosbare ervaring vir Laurika.


Laurika bedank haar ondersteuners opreg: “Dankie dat jy my vertonings bygewoon het en steeds na my musiek luister. Jou woorde en waardering het sin aan my lewe en werk gegee. Ek voel geseënd en bevoorreg om hierdie pad saam met jou te kon stap. Mag dit goed gaan, en geniet elke liedjie asof dit net vir jou gesing is. Dit sal vir my baie gelukkig maak!”


Met Afrikaans wat in 2025 sy 100ste bestaansjaar gedenk, beskou Laurika die tydsberekening van haar afskeid as soete toeval. “Ek is bly dat ek vanjaar nog ’n bydrae kan lewer tot hierdie viering.”


Met hierdie projek sluit Laurika ’n merkwaardige hoofstuk af, maar haar stem en musiek sal voortleef in die harte van haar ondersteuners. ‘Laurika se Tuiskoms’ is ’n uitnodiging om saam met haar hierdie spesiale laaste oomblikke te deel.




  • Nog Voor Ek Jou Geken Het is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 07 Februarie 2025
ONS en Rooksein se samewerking is ’n klankbaan vir ‘Stellies’
Deur Coleske Artists 13 Desember 2024
Dodo Nyoka sluit 2024 af met ‘Meisie’ – ’n vrolike kuierliedjie!
Deur Coleske Artists 13 Desember 2024
Riaan Benadé sluit die jaar af met ’n bietjie ‘Vitamiene See’
MEER ARTIKELS
Share by: