Die akademiese jaar is in volle swang en kampusse bruis weer van energie! Wat is ’n beter manier om hierdie opwindende tyd af te skop as met ’n splinternuwe samewerking tussen twee opkomende musiekgroepe? ONS (Marco van Deventer en Ruvé Erasmus) en Rooksein (Renier van der Westhuizen, Dian Maritz en Megan Tait) het die internet aan die gons gehad met hul oënskynlike fete, maar hul aanhangers is gou reggehelp - dit was alles deel van die opbou vir hul nuwe liedjie, “Stellies”.
Marco van ONS verduidelik hoe die samewerking tot stand gekom het: “Ons was nog altyd geïnspireer deur Rooksein se unieke musiekproduksie en het gevoel dat ons lirieke en sosiale media-benadering goed sou saamwerk met hul klank.” Renier van Rooksein voeg by: “Dit is moeilik om te verduidelik hoekom ons saam met ONS gewerk het, maar dis soos eende uit dieselfde dam. Ons het nog altyd bewondering vir mekaar gehad en vul mekaar in verskeie aspekte aan. Boonop is ons eintlik goeie vriende.”
Die idee vir “Stellies” het by Marco begin, maar die liedjie het slegs ’n vers en ’n koor gehad. Renier het toe ingespring en die tweede vers geskryf, en saam het hulle die brug voltooi. “Die hoofkonsep en struktuur het van ONS gekom, en Rooksein het gehelp om dit af te rond. Ons het Rooksein se vervaardiger gebruik om die liedjie ’n effens meer band- en Rooksein-vibe te gee. Dit is ’n wonderlike balans tussen beide ons style,” verduidelik Renier.
Die liedjie is lig en nostalgies, met ’n dubbele betekenis. “Wanneer ek van ‘Stellies’ praat, verwys ek eintlik na iemand van wie ek hou. Maar ons wil ook hê dat eerstejaarstudente nostalgies na hierdie liedjie kan terugkyk, en mense elders moet dit kan sien as ‘Ek hou van Stellies’,” sê Ruvé.
Dian van Rooksein stem saam: “Stellenbosch is net ’n ongelooflike plek. ’n Mens is bevoorreg om daar te wees, en jy is net een keer jonk - maak die meeste van elke oomblik!”
Renier sê “Stellies” is ’n baken van ’n nuwe begin vir Rooksein. “Ons begin nou eers regtig as ’n groep en is gereed om die beste musiek van ons lewens te maak. Die afgelope sewe jaar het ons ongelooflik gegroei en geleer, en ons is opgewonde om dit nou toe te pas. Hierdie liedjie is net die begin.” ONS stem saam en meen dat “Stellies” perfek aansluit by hul onlangse kortspeelplaat, “Begin”. “Ons begin nou eers om ons plek in die musiekbedryf te vestig en met ander kunstenaars saam te werk. Maar ons sal altyd eg aan die ONS-klank bly,” sê Marco.
Oorspronklik was daar nie planne vir ’n musiekvideo nie, maar toe kom die inspirasie. “Ons het besluit om ons aanhangers se spesiale oomblikke te gebruik en saam te voeg in ’n musiekvideo, wat ons beplan om binne twee weke na die liedjie se vrystelling uit te bring,” vertel Megan.
Met die hoop dat “Stellies” die klankbaan van Stellenbosch-studente word, is ONS en Rooksein gereed om die Afrikaanse musiekbedryf op horings te neem.
Coleske Artists Management, Lombardy Business Park, Cnr Cole & Graham Roads, Pretoria, 0810