Blog Layout

Ruhan du Toit kry die kuiers aan die gang met ‘Ek Hou Van’

Ruhan du Toit, bekend vir sy sielvolle en patriotiese liedjies, verras weer sy aanhangers met ’n nuwe kuierliedjie. Ná die sukses van “Kan ’n Man” steek hy weer die braaivleisvuur aan met sy nuutste enkelsnit, “Ek Hou Van” – ’n liedjie wat die eenvoudige plesiertjies van die lewe vier en luisteraars aanmoedig om net hulself te wees.


“Dis die erkenning van al die aardse goedjies waarvan ons hou, spesifiek gemik op die Suid-Afrikaner,” sê Ruhan oor dié liedjie. “Op die ou einde hou ek die meeste van ‘jou’ – en dis vir die luisteraar om te besluit wie daardie ‘jou’ is.”


Die liedjie bring ’n nostalgiese boeremusiek-klank met ’n speelse en stouterige aanslag. “Ek het al ’n rukkie so op die rant hiervan aangekom met ‘FAK’ en ‘Kan ’n Man’, so dit het natuurlik gevoel om nóg een van daardie uit te bring,” verduidelik hy.


“Ek Hou Van” is ’n Coleske-spanpoging met ’n indrukwekkende lys medewerkers. Die liedjie is geskryf deur wyle Johan Oberholzer. Ruhan het self eers die liedjie vervaardig waarna dit deur Juan “Floors” Oosthuizen en Murray Lubbe verder afgerond is. Agtergrondstemme is verskaf deur Marco van Deventer (ONS), Arnold Coleske, Georic Lomas, Lisie Basson en Bella Coleske. Die stemwerk is opgeneem in die Coleske-ateljee deur Paulo Azevedo en Arnold Coleske.


Saam met die liedjie word ’n musiekvideo vrygestel wat talle bekende gesigte insluit, insluitend Chris Steyn en sy pa Rene, Monique Steyn se man Robbie, Marco van Deventer, Georic Lomas, en selfs die Coleske-baasbreine, Arnold Coleske en Brendon Hargroves. Die video, verfilm deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative, is opgeneem by die pragtige Tundavala Hunting Safaris in die Waterberge.



“Die instruksie was eenvoudig: ‘Doen wat julle sou doen op ’n lekker wegbreeknaweek vir manne’ – heeltemal unscripted,” verduidelik Ruhan. “Dit was bloot ’n paar pêlle wat die geleentheid gehad het om vir ’n dag of twee op ’n plaas te kuier.”


Ruhan hoop dat “Ek Hou Van” by sy gehoor sal aanklank vind as ’n liedjie wat gesing, gebraai, gekamp en geniet kan word. “Ek het soveel groot, swaar en diep liedjies, dat hierdie bietjie ligter materiaal soos ’n vars bries voel – veral tydens vertonings.”


Met 2025 wat goed op dreef is, belowe Ruhan nog nuwe musiek en moontlik ’n paar opwindende samewerkings. “Ons sit nie stil nie,” sê hy geheimsinnig.



  • Ek Hou Van is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.


LUISTER HIER
deel hierdie artikel
Deur Coleske Artists 07 Februarie 2025
ONS en Rooksein se samewerking is ’n klankbaan vir ‘Stellies’
Deur Analda Breedt 24 Januarie 2025
Laurika Rauch groet met kortspeler, spesiale dokumentêr ‘Laurika se Tuiskoms’
Deur Coleske Artists 13 Desember 2024
Dodo Nyoka sluit 2024 af met ‘Meisie’ – ’n vrolike kuierliedjie!
MEER ARTIKELS
Share by: