Ná agt jaar se ateljee-stilte en ’n oënskynlike uittrede uit die musiekbedryf is die legendariese Laurika Rauch terug met nuwe musiek.
“Ek het die voorreg van ’n baie lang loopbaan van meer as 40 jaar gehad, maar tree nou al vir geruime tyd nie meer op nie,” sê Rauch. “Ek kry egter daagliks nog versoeke vir vertonings. As dit enigsins moontlik sou wees, wou ek ’n ‘grootse gebaar’ teenoor die mense wat my en my werk nog steeds en oor soveel jare ondersteun, maak.”
Rauch, wat byna agt jaar laas ’n nuwe liedjie opgeneem het, is saam met die Coleske-Groep aan die werk om ’n versameling nuwe liedjies op te neem. Die eerste snit,
Liewe Lewe, word op 26 Julie 2024 uitgereik, met die ander snitte wat een vir een sal volg. Die volledige versameling sal DV teen einde November beskikbaar wees.
“Ek en Carien Loubser (bekende TV vervaardiger vir ondermeer Die Republiek van Zoid Afrika, JAN en Klanke Van My Hart) het ’n ontbytkuier gehad en sy het my bekendgestel aan die liedjie
Liewe Lewe van Christi van Niekerk, ’n jong en talentvolle komponis/sanger. Ek en Arnold Coleske, Paulo Azevedo en Juan (Floors) Oosthuizen het aan die werk gespring. Dis ’n pragtige, vars en vrolike liedjie met ’n ideale boodskap. Ek beplan om nog ’n paar liedjies van jong, maar ook gevestigde liedjieskrywers op te neem. Die versameling sal definitief ook spog met ’n paar
vintage - Laurika liedjies,” sê Rauch.
Rauch erken dat sy nie doelbewus oor die jare ’n platform vir jonger kunstenaars probeer skep het met samewerkings nie, maar sy is dankbaar as dit wel hulle loopbane gehelp het. “Dit was Arnold Coleske se idee om Christi ook te betrek as ‘medewerkende kunstenaar’ en die toevoeging van haar stem maak ’n pragtige bydrae tot
Liewe Lewe”.
Ander jonger kunstenaars saam met wie Laurika al gewerk het sluit onder andere in, Kurt Darren in sy jonger dae, die bekwame kitaarspeler en vervaardiger Loki Rothman, Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue asook die alternatiewe groep Bittereinder.
Alhoewel sy nog altyd die verhoog as haar eerste liefde beskou het, was die afgelope weke in die ateljee vir haar absoluut vreugdevol en opwindend. “Die hele proses is vir my regtig lekker,” voeg sy by.
Rauch het ook nou tyd gekry om aandag te gee aan baie ander dinge en belangstellings waarvoor daar nooit tevore tyd was nie. Sy het haar spreekwoordelike ‘huis in orde’ begin kry en haar toekennings, foto’s, memorabilia, musiekargief, artikels en resensies aan NALN (Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein geskenk.
Die omslag van
Liewe Lewe bevat ’n vrolike skildery wat deur Rauch se dogter, Nina Torr, gemaak is, gebaseer op ’n foto wat haar pa met ’n bokskamera geneem het tydens haar vyfde verjaarsdagpartytjie. Aanhangers kan uitsien na nóg unieke kunswerke van Nina wat as liedjie-omslae sal dien.
“Nina het vantevore al tot van my werk bygedra - haar kuns was byvoorbeeld te sien in die boekie van
Wals, Wals, Willemien en ook as die omslag van my
In duet-versameling op Apple Music. Dis vir my lekker en betekenisvol om saam met my kind te werk.”
Laurika Rauch se terugkeer na die musiekbedryf met nuwe musiek is ’n opwindende gebeurtenis vir haar aanhangers en die Afrikaanse musiekgemeenskap. “Ek kan basies nie wag nie!” sê Rauch opgewonde.
Coleske Artists Management, Lombardy Business Park, Cnr Cole & Graham Roads, Pretoria, 0810